Poen Pienaar, versekeringsagent, wil “totale gemoedsrus” aan ‘n hardkoppige Oupa en Hendrik verkoop, maar sonder sukses. Hendrik, Wimpie en Koert gee Ouboet hand met die trekkery en Oupa gaan ontspan by die klub. Oupa vergeet waar hy sy kar parkeer het en die bakkie met Yollie se huisraad op word “gesteel”.
Hess besluit sy wil leer kar bestuur. Sy neem die bakkie sonder toestemming en maak ‘n ongeluk. Hendrik gaan ‘n weddenskap met Oupa aan om sy lisensie te kry. Intussen maak Wimpie, Ouboet en Yollie gereed om na ‘n country fees te gaan
Yolanda kry ‘n vreemde oorbel in ouboet se kar en haar twee-en-twee is ongetwyfeld vyf. ‘n Onverwagte besoek van Rusty krap dinge nog verder om in die Van Tonder-huishouding. Nadat Hendrik ‘n paar misverstande uit die weg ruim, is almal weer gelukkig.
Wimpie en Hess gaan Johannesburg toe met ‘n skooltoer. Bennie kom terug van die grens af en Maggie is verheug om haar “baba” weer by die huis te hê. Ouboet en Yollie wil see toe trek. Hendrik en Yollie se pa, Sarel, kry die blouaapstuipe en buurvrou Bettie het haar vinger op die pols van al die verwikkelinge.
Hendrik gaan op ‘n veiligheidsverteenwoordigerkursus wat saamval met Maggie se verjaardag. Vroulike suspisie as ‘n vrou in Hendrik se kamer die telefoon antwoord, lei tot die een misverstand op die ander.
Die Van Tonder-huishouding word ontwrig as die meubels teruggeneem word. Hess skaam haar dood, Wimpie en Oupa het deels skuld daaraan. Maggie blameer vir Hendrik en hy moet die gedoente opklaar. Yollie en ouboet vererger dinge nog verder deur oop oë in ‘n swendelaar vas te loop.